LEDEVERGADERING VAN DIE NOORDWESTAK VAN DIE GENEALOGIESE GENOOTSKAP VAN SA DATUM EN TYD: Maandag, 6 Mei 2013 om 19:00 PLEK: Potchefstroomse Museum (h/v Solplaatjielaan en Wolmaransstraat, Potchefstroom) ONDERWERP: Bewaar jou eie oudhede tuis SPREKER: Annemarie Carelson, Kurator by die Nasionale Kultuurhistoriese Museum te Pretoria KONTAKPERSONE: Elmarie Weyers (018 2995021) of Stephan Botha (083 743 0507) BEWAAR JOU EIE OUDHEDE TUIS Die meeste van ons besit erfstukke wat van geslag tot geslag oorgedra word. Dit wissel van 'n handgemaakte dooprok, 'n ou familiebybel, krygsgevangene voorwerpe, meubelstukke tot 'n kleurvolle konfoor en tessie en vele meer. Die versorging en berging van die stukke is gewoonlik vir die eienaar 'n groot kopseer. Volgens Miems Lamprecht, Kultuurhistorikus van die Potchefstroomse Museum beskadig mense dikwels erfstukke deur dit self, sonder die nodige kennis, te probeer restoureer. Sy kry gereeld te doen met dokumente en familiebybels waar gewone kleefband gebruik is om skeure aan bladsye te herstel. Na jare is die vergeelde spore van die misstap duidelik sigbaar. Nog 'n groot "sonde" is om met 'n skuurmasjien nuwe lewe aan 'n ou meubelstruk te probeer gee. In die proses word alle ou gebruiksmerke verwyder, asook die unieke karakter van die stuk vernietig. 'n Navraag wat die Museum dikwels ontvang, is of tekstiele soos dooprokke en kwiltwerk geraam kan word en hoe dit gedoen moet word sodat die lewensduur daarvan verseker kan word. Die Noordwestak van die Genealogiese Genootskap van SA het Annemarie Carelson gevra om te kom gesels oor hoe erfstukke skoongemaak, geberg of uitgestal behoort te word. Die praatjie sal op Maandagaand, 6 Mei 2013 om 19:00 in die Potchefstroomse Museum (h.v. Sol Plaatjielaan en Wolmaransstraat) plaasvind. Diegene wat belangstel, kan gerus 'n klein erfstukkie saambring, sodat dit deel van die bespreking kan uitmaak. Annemarie is 'n kenner op die gebied van die versorging van oudhede. As kurator by die Nasionale Kultuurhistoriese Museum te Preotira is sy verantwoordelik vir hul tekstiel-, meubel en metaalversameling. Sy het ook 'n uitgebreide ondervinding in die inrigting van huismuseums. In 1996 het sy haar meestersgraad verwerf met haar verhandeling oor die interieurs van plaashuise in die eertydse Transvaal in die tydperk tussen 1900 en 1950. Almal is welkom om die praatjie by te woon. Vir meer inligting, skakel gerus vir Elmarie Weyers (018 2995021) of Stephan Botha (083 743 0507). Op die Genealogiese Genootskap se webblad: <http://www.genza.org.za> www.genza.org.za is daar ook meer inligting oor die Noordwestak se jaarprogram en projekte.