Beste Janet, Daar kan 'n verskeidenheid antwoorde op jou vrae wees. Breedweg kan die persone wie die familiebond stig self op die hoe, waar en wanneer besluit. Ek gee vir jou die antwoorde soos dit op die Le Roux Familiebond van toepassing is: 1. Wat is n familiebond - Dit is 'n organisasie wat onafhanklik van sy lede bestaan en hom ten doel stel om sekere doelstellings (sien hiernaas) na te streef. Die doelstellings, lede, bestuur, finansiele verantwoordelikhede, prosedures by vergaderings, ens word in 'n geskrewe grondwet uiteengesit wat alle lede insae in het en wat as gesaghebbende "reƫls" dien. 2. Wat is die doel van n familiebond - Die doel van 'n familiebond is om (1) hegte verbintenisse binne die groter familie te smee, (2) die familie erfenis te bewaar, (3) die opteken van familiegeskiedenis (en genealogie) aan te moedig, (4) die hou van familiebyeenkomste. 3. Wie behoort aan n familiebond ( all and sundry?) - die nasate van die stamvaders, hulle aanverwantes asook enige persoon wie homself met die doelstellings van die bond vereenselwig. 4. as daar n komitee is hoe word hulle gekies demokratiese deur mense wat stem vir hulle of sommer iemand wat besluit hy kies n paar lede van die familie en hulle sal dien as die komitee? - 'n komitee word deur lede wie 'n ledevergadering bywoon gekies. (As 'n nuwe bond begin, sal iemand seker die voortou neem en die "sameroeper" wees, hy sal dan ook seker kennisse opkommandeer om as 'n interim bestuur te dien totdat die eerste vergadering van die bond gehou word.) 5. wat moet lede verwag van n familiebond? - Gewoonlik word daar byeenkomste gereel; sommige familiebonde laat aandenkinge druk - soos lapelwapens / dasse / glase met die familiewapen daarop. (Sien onderaan) Dit hang van geval tot geval af. 6. Moet jy geld betaal om aan die bond te behoort - Dit sal van bond tot bond wissel maar dit is altyd 'n goeie idee om ten minste 'n aansluitingsfooi te betaal (dit kan ook 'n lewenslange lidmaatskap wees). 7. En indien wel wat gebeur met die geld? - Ledegeld sowel as enige hekgelde by byeenkomste en winste met verkoop van produkte sterk die koffers van die bond. (sien onderaan). Dit word gebruik om die doelstellings van die familiebond uit te bou. By voorbeeld, ons Le Roux's het 'n graniet gedenksteen laat oprig op die standplaas van Gabriel le Roux, een van die stamvaders. (Die plaas het later die hoofkantoor van die KWV geword en die steen staan in hulle voortuin langs die Paarlse Hoofstraat). Onthou asb dat daar spesifieke reels is rakende die gebruik van familiewapens. Indien jy belangstel, kan jy Prof Deon Fourie se artikel in die Hugenote Bulletin No 49 (2012) bestudeer. Jy kan ook die "links" op NAAIRS volg om by "Heraldiek" uit te kom. Verder is daar spesifieke bepalings in die Inkomstebelastingwet wat handel oor die vrystelling van belasting van sekere organisasies sonder wins-oogmerk. Familiebonde kan daarvoor kwalifiseer mits hulle aan die vereistes voldoen. Paul le Roux Tesourier: Die Le Roux Familiebond Paarl