Beste Vriende Ek het maar eers redelik onlangs gelees dat die trekboere wat tussen die Lange-en Swartberge Oos-Kaap toe getrek het se fokus op beesboerdery was, terwyl die wat met die Karoo se Roggeveld-en Nuweveldberge langs getrek het se fokus op skaapboerdery was. Dit is eintlik logies as mens na die landboupotensiaal van die gebiede kyk. Nou verstaan ek ook waarom my Jacobse wat vanaf Bokrivier (tussen Ceres en Touwsrivier) deur die Karoo Graaff-Reinet toe getrek het, in die Winterveld veldkornetskap (huidige Richmond-omgewing) van Graaff-Reinet geeindig het. Daarvandaan is hulle uiteindelik na die Suid-Vrystaat (ons het weer in die Wes-Kaap beland omdat my oupagrootjie op 14 jarige ouderdom van die huis af weggeloop het na sy Oupa Malan wat op daardie stadium in die Zeerust-distrik gewoon het, maar in die vroee 1890's weer teruggetrek het Wellington toe.) Ek het verstaan dat dit ook een van die hoofredes was waarom iemand soos Piet Uys verkies het om Natal-toe te trek. Ek verbeel my ek het iewers gelees dat die mense van die Tarka wat saam met Potgieter is weer merendeels uit skaapboere bestaan het. Aangesien mens nie in Noordwes - waar baie van die mense geeindig het - met skape kan boer nie wonder ek of dit wel so was. Sou dit so wees, moes hulle dan uiteindelik van hulle skape ontslae geraak het en met beeste begin boer het. Ek het ook iewers gelees dat die skaapboere met die Natal-toe trekkery aan die begin van die Groot Trek dan ook baie verliese gelei het. Is die onderwerp dalk al iewers behoorlik nagevors? Groete Daniel Ns. My swaer wat in die Overberg boer het onlangs aan my genoem dat dit vandag nog Uyse is wat die voorste telers van die Drakensberg beesras is. Die ras het ontstaan uit die sogenaamde Uys beeste waarmee die Uyse vanaf die Overberg Oos-Kaap en uiteindelik Natal toe is. 'n Mnr Wessels van die Overberg het baie navorsing oor o.a. die beesras gedoen. Piet Uys se geboorteplek is net anderkant Stormsvlei op pad Swellendam toe. Mens gaan so 5 of wat kilometer anderkant Stormsvlei oor die Hessequa Rivier. Die opstal was net links van waar die Rivier onderdeur die N2 loop. Mens gaan glo deur 'n klofie wat sigbaar is vanaf die pad om by die plek te kom waar die opstal was. Die Rapportryers tak van Riviersonderend het daar 'n gedenkplaat opgerig. -- Vir gratis Genealogiese Handleiding gaan na www.gendata.co.za Siebrits/du Toit/Meyer/Zeeman/De Villiers (Franschhoek/Paarl) Jacobs/Oberholster/Smith (Graaff-Reinet/Fauresmith) Le Roux/Van der Merwe (Villiersdorp) Louw/Brink (Kaapstad/Wellington) De Vos (De Doorns/Wellington) Malan (Wellington/Zeerust) Ungerer (Swellendam) Smith (Wellington)