RootsWeb.com Mailing Lists
Total: 1/1
    1. [BP] VAN HEERDEN ABO VLAKFONTEIN (RUSTENBURG-DISTRIK)
    2. Daniel Jacobs
    3. Beste Vriende Ek het die volgende Van Heerden gesin. Nasate van Barend Izak Jacobus van Heerden ------------------------------------------ 1-Barend Izak Jacobus van Heerden X Anna Maria Jacomina Enslin 2-Barend Isaac Jacobus van Heerden geb. ca. 1865, Grootnylsoog, distrik Waterberg, + 7 Nov 1929, Rustenburg X Susanna Sophia Erasmus dv. Louwrens Jacobus Erasmus (1828-1900) en Lydia Magdalena Fouche gebore ca. 1868, Rustenburg + 28 Des 1926, Roodewal No. 752, Rustenburg 3-Barend Izaak Jacobus van Heerden 3-Lourens Jacobus van Heerden 3-Carel Sebastiaan van Heerden 3-Lydia Magdalena van Heerden X Jan A. Kruger 3-Johan Adam van Heerden 3-Anna Maria Jacomina van Heerden X Daniel Opperman 3-Susanna Sophia van Heerden 3-Stefanus Pieter van Heerden 3-Erasmus Johannes van Heerden Ek stel belang om kontak te maak met enige van die nasate van bostaande mense om te kyk of hulle nie dalk oor inligting en foto's van die Erasmusse beskik nie. Ek lees ook in Genl. JC Kemp se boek Vir Vryheid en Reg op bl. 393 die volgende m.b.t. die Slag van Vlakfontein (by die huidige Derby tussen Koster en Rustenburg): "Ek besluit egter om daadwerklik op te tree en storm met 300 man die rookbedekte bult uit. Toe ons die kloof deur is, galopoeer ons in 'n lang geboeë linie oor die afgebrande, nog rokende veld, die bult uit. Links is Van Deventer met sy verkenners, waaronder party van my kanonlose artilleriste; dan Van Heerden en Van Tonder met die Rustenburgers ens." Ek wonder nou of daar 'n 'n verband is tussen Barend Izak Jacobus van Heerden (1865-1929) en hierdie Van Heerden wat seker 'n veldkornet was. Sy swaer Jacob Lourens Carolus Erasmus (1860-1927) wat ook aan die Slag deelgeneem het, het na die Slag 'n jong gewonde Engelsman na sy plaas Doornkom geneem, waar hy gesond gedokter is. Die Veldslag waar die Engelse swaar verliese gelei het is o.a. bekend vir die feit dat die Engelse soldate baie onervare was. Hulle het so pas in Suid-Afrika gearriveer en hulle opleiding was ook nie baie goed nie. Daar was na die geveg bewerings van Engelse kant dat die Boere van die gewonde Engelse doodgeskiet het. Kemp verwys nie in sy boek daarna nie. In sy bespreking van die Slag van Moedwil wat 'n paar maande daarna plaasgevind het (daar was De la Rey die aanvoerder) noem Kemp dat daar duidelike tekens was dat twee gewonde boere na die Veldslag doodgemaak is. Ek sal ook graag die saak meer volledig wil ondersoek. Vriendelike groete Daniel Jacobs Ns. Die Enslin dame se familie was duidelik deel van die Jerusalemgangers oor wie ek by 'n vorige geleentheid die volgende in 'n boodskap aan die lys geskryf het: Ek het by 'n vorige geleentheid die volgende boodskap aan die lys gestuur: Die bekende Dr. Andrew Murray word op op 6 Mei 1849 op 20-jarige leeftyd deur sy Pa, Andrew Murray Senior, bevestig as leraar van die NGK in Bloemfontein. Vyf dae later – op 11 Mei - sou hy eers mondig word. Die teksvers van sy intreepreek was 1 Korinthiërs 1 vers 23. Andrew Murray senior het in 1822 uit Skotland na Suid-Afrika verhuis. Toe sy seun in 1844 uit Europa vir hom laat weet dat hy besluit het om 'n predikant te word, skryf hy die volgende in 'n brief aan hom:"De dienst in de kerk van Zuid-Afrika belooft je niet veel van de rijkdom en het gemak van de wereld , maar biedt je een veld van nuttigheid aan, so uitgebreid als je kunt verlangen, en dat onder een vriendelijk en verdraagzaam volk." Ek aanvaar hy verwys hier na die Afrikaners - onder wie hy self predikant was. Hy was vir sy hele bediening predikant in Graaff-Reinet. Andrew Murray sou vir 11 jaar predikant wees in Bloemfontein waarna hy ook die gemeentes Worcester, Kaapstad en Worcester bedien het. Gedurende sy verblyf in Bloemfontein het hy ook meer as een besoek aan die Voortrekkers in die Transvaal gebring. O.a. aan 'n groep wat bekendgestaan het as dieJerusalemgangers. Die leier van die Groep was Jan Adam Vosloo. In Die Jerusalemgangers, met besondere verwysing na JA Enslin maak prof. JP Claassen, met verwysing na Jan Enslin, die volgende opmerking: "Rondom hierdie man en sy geesgenote ontvou die vreemde verhaal van ’n aantal mense wat ’n plan opgevat het om oor Afrika te trek tot by Jerusalem. Hulle was vas oortuig dat die gevaarvolle reis oor die berge en vlaktes van die donker onbekende Afrika hulle sou bring by die glansende velde en ligtende hemel van Jerusalem. So sou hulle dan Jerusalem, die hervormde Paradys, vir hulleself en hulle nageslag verseker." Dr. William Robertson, predikant van Swellendam, het hierdie begeerte om na verafgeleë plekke te trek ook vroeër by o.a. die De Beers in die wyk Swartberg teëgekom. Enslin en verskeie van sy volgelinge het familiebande met hierdie mense gehad... Afgesien van die geestelike dryfvere het Enslin ook gemeen dat so ’n trek na Jerusalem hom en sy volgelinge van Engelse oorheersing en die voortdurende konflik met die swartes sou bevry. Enslin het in 1837 die kolonie as Voortrekker verlaat en was in 1838 in Natal. Hy het hom later in die Winburg-omgewing gevestig en in 1848 was hy een van die kommandante by die Slag van Boomplaats. Ná die Boere se nederlaag het hy hom in Marico gevestig op sy plaas wat hy Meseg genoem het. Die plaas se naam is ontleen aan Psalm 120 vers 5, een van die bedevaartsliedere wat ’n Israeliet op sy reis na Jerusalem gesing het. Enslin was in voortdurende konflik met sy mede-burgers. Hy het o.m. na aanleiding van Openbaring 12:3--4 gesê hy sien hoe Andries Wessel Pretorius deel uitmaak van die sterre of engele wat deur Satan in sy uiteindelike val meegsleur word. Dr. Andrew Murray het ná Enslin se dood in 1852 verskeie deputasies na die groep gelei. In ’n stadium wou sommige van Enslin se volgelinge selfs vir dr. Murray stenig omdat hulle hom as in diens van die ``Antichris” (Engeland) beskou het. Terwyl hulle besig was met voorbereidings vir die tog na Jerusalem, het ’n malaria-epidemie in die somer van 1851--1852 die lewens van verskeie lede van die groep, waaronder ook dié van Jan Enslin, geëis. Van sy volgelinge het nou ter wille van selfbehoud uit die Marico gevlug en in die Waterberg-distrik aangekom waar hulle die breë biesie-omsoomde rivier die Nyl genoem het en die dorpie Nylstroom tot stand gebring het. Bronne: Claassen, J.P. : Die Jerusalemgangers, met besondere verwysing na JA Enslin, Pietersburg, 1981 Du Plessis, J.: The Life of Andrew Murrau of South Africa, Marshall Brothers, 1919. Jacobs, D.M.: Die Vosloos - Nuttige Landsburgers, Deel 1, Kaapstad, 2003 Van Valen, L.J.: Geworteld in Zijn Liefde, Banier, 2008 (hierdie boek is 'n nuwe biografie oor Andrw Murray)" Terloops: Ek het in Desember 2010 'n vyf uur gesprek in Zeerust gehad met die Mnr. Sonny Greeff na wie in Dana Snyman se artikel verwys word. Dit was die interessantse gesprek wat ek nog ooit met enige mens gehad het. Alles is opgeneem en die verhale wat hy aan my vertel het sal dus onwaarskynlik verlore gaan. Hy is ook 'n nasaat van Hendrik Greeff-skoonpa van Genl de la Rey - oor wie ek tans navorsing doen. Vir gratis Genealogiese Handleiding gaan na www.gendata.co.za Siebrits/du Toit/Meyer/Zeeman/De Villiers (Franschhoek/Paarl) Jacobs/Oberholster/Smith (Graaff-Reinet/Fauresmith) Le Roux/Van der Merwe (Villiersdorp) Louw/Brink (Kaapstad/Wellington) De Vos (De Doorns/Wellington) Malan (Wellington/Zeerust) Ungerer (Swellendam) Smith (Wellington)

    05/14/2013 07:51:25