Beste Vriende Ek is besig met navorsing oor hoe Generaal de la Rey en sy vrou Nonnie Greeff mekaar ontmoet het, beter leer ken het en toe getrou het. Nonnie de la Rey (dan gebore Greeff) - haar Pa was Hendrik Adriaan Greeff, stigter van Lichtenburg - se Memoirs in Nederlands (die oorspronklike manuskrip is in die Nasionale Argief in Pretoria) is in Afrikaans vertaal deur AWG Raath en gepubliseer in sy boek De la Rey 'n Stryd vir Vryheid. Ek vergelyk ook wat Nonnie de la Rey vertel met wat in die boek Boerewysheid vertel word van "Hofmaak, verlowing en huwelik" onder Afrikaners in die 19de en 20ste eeue. Baie interessante leesstof. Net enkele opmerkings daaroor (skanderings van die volledige hoofstuk is by https://www.facebook.com/Afrikaner-Geskiedenis-236582063099089/) Die gebruik van 'n opsitkers is glo 'n gebruik wat onder Afrikaners ontstaan het. As die opsitkers uitgebrand is of tot op 'n plek gebrand het waar die ma voor die tyd 'n speld ingedruk het "moes hulle die opsittery beëndig." 'n Boer maak egter 'n plan en dan ïs die kers "soms selfs in 'n driepootpot geplaas met die deksel net so half oop sodat dit stadiger kon brand." Wat ook baie interessant is, is dat genoem word dat die gebruik van 'n opsitkers teen 1940 ten einde gekom het. Die rede word nie gegee nie. Dit hou seker o.a. verband met die koms van elektrisiteit, maar ek wonder of dit nie ook iets met die Tweede Wêreld Oorlog (wat mos in 1939 uitgebreek het) te make gehad het nie. Toe alles mos skaars was. My Pa het my ook daarvan vertel. O.a. hoe skaars bv. suiker was en as ek reg onthou ook wit meel. Ek het as kind seëls versamel en mens het mos ook die piepklein seëtjies gekry wat uit die Oorlogsjare dateer. Dit dan ook om papier te kon bespaar. Kerse is seker ook net per rantsoen bekome en toe was daar nie nie genoeg kerse vir 'n opsittery nie. Daar was ander groter prioriteite vir die gebruik van kerse. Groete Daniel Jacobs Webtuiste: www.gendata.co.za Linkedin: linkedin.com/in/danielmalanjacobs Vir gratis Genealogiese Handleiding gaan na http://bit.ly/genhandleiding Siebrits/du Toit/Meyer/Zeeman/De Villiers (Franschhoek/Paarl) Jacobs/Oberholster/Smith (Graaff-Reinet/Fauresmith) Le Roux/Van der Merwe (Villiersdorp) Louw/Brink (Kaapstad/Wellington) De Vos (De Doorns/Wellington) Malan (Wellington/Zeerust) Ungerer (Swellendam) Smith (Wellington)