Aan almal met n belangstelling in stammoeder Anne Souchay: Ek en Drummond Corrie, beide mede-administrateurs van die FTDNA Kaap Hollandse Stamouer DNS Projek ( <https://www.familytreedna.com/public/CapeDutch?iframe=mtresults> https://www.familytreedna.com/public/CapeDutch?iframe=mtresults) het onlangs navorsing gedoen om 3 mt-DNS haplogroep U4 projek bydraers se matriliniêre voormoeder te identifiseer. Ons het gevind al 3 bydraers stam af van Anne Souchay. Een bydraer het HVR1, HVR2 asook die koderingsgebied laat toets, en sy resultaat het dit aanvanklik moontlik gemaak om haar haplogroep te verfyn tot U4c1a. [FTDNA het sedertdien hierdie haplogroep hersien na U4c1] Vir diegene wat sou belangstel: Ons het n artikel gepubliseer waarin ons navorsing uiteengesit word in eGGSA se kwartaallikse joernaal Genesis Volume 54, Maart 2017. Die genealogiese tammeletjies wat ons teegekom het was tipies van die struikelblokke wat genealoë teekom en moet probeer oorbrug, bv name op sterftekennisse en selfs doopinskrywings wat verkeerd of onvolledig weergegee is, gevalle waar mense as volwassenes hulle name effens verander of name byvoeg, en foutjies of weglatings in gepubliseerde boeke en geslagsregisters. Ons bevindings illustreer wel hoe effektief DNS-genealogie is beide om stamoueridentifikasie te bevestig asook n veel dieper dimensie by tradisionele genealogie te voeg wat ons perspektief op die oer herkoms van ons stamouers verryk. Groete, Martina Louw. (Brisbane)