Lyslede – Goeiedag, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die name van ontvangers van hulle toekennings bekend gemaak. GGSA se gelukwense aan prof. Gerhard Geldenhuys, Lid van Wes-Kaap as ontvanger van die DF du Toit Malherbe toekenning. Die bekende Nicol Stassen, uitgewer en eienaar van bekende Boekwinkels as ontvanger van ‘n Erepenning vir sy bydrae tot Geskiedenis. Hiermee iets meer oor die twee persone: DF du TOIT MALHERBE PRYS Die DF du Toit Malherbe prys vir Genealogiese Navorsing vir 2017 word toegeken aan prof. Gerhard Geldenhuys, emeritus professor van die Departement Toegepaste Wiskunde, Universiteit van Stellenbosch. Prof. Geldenhuys ontvang die prys vir die besondere rol wat sy genealogiese navorsing gespeel het op 'n medies-wetenskaplike gebied in die ontrafeling van die molekulêre oorsake van oorerflike siektes. Gerhard was onder andere deel van die multi-disiplinêre span wat oorerflikhied van die Lang QT-sindroom (‘n abnormale hart-ritme) in Afrikaner familes nagevors het (sien sy artikel in Capensis 2009/3). Deur sy navorsing het hy ‘n stigters-paar geïdentifiseer van wie alle lyers afkomstig is. Gerhard is reeds jarelank ‘n lid van die Weskaap tak van die GGSA en het onder ander in die vroeër 2000 as tak voorsitter gedien. Hy is ook ‘n gereelde bydraer tot Capensis en dien op die redaksionêle span van die joernaal. Hy het in 2006 die Weskaap tak se Margaret Cairns toekenning ontvang vir sy navorsing na oorerflike siekte. (inligting deur Paul Le Roux – Weskaap) -X<>X<>X<>X<>X<>X<>X- EREPENNING VIR DIE BEVORDERING VAN GESKIEDENIS: Hierdie Erepenning gee erkenning aan ’n persoon vir ’n besonder hoogstaande bydrae tot die bevordering van die Geskiedenis as dissipline in Suid-Afrika.Die Erepenning word vanjaar toegeken aan Nicol Stassen van Protea Boekhuis. Alhoewel Nicol se jongste en formidabele werk Die Dorslandtrek 1874-1881 sekerlik nie die enigste motivering was om vir die toekenning in aanmerking te kom nie was dit beslis bydraend soos in GGSA-Ntvl se motivering vir GGSA se “Publikasie van die Jaar” uiteengesit. “Die drie Dorslandtrekke en die beskrywing van hulle wedervaring beslaan 711 bladsye. Dit het sewe jaar geneem om te voltooi en het as proefskrif vir sy doktorale studie gedien. Die boek bevat die lyste name van die drie Dorslandtrekke; die name van die persone wat later aangesluit het; sterfgevalle op trek; Afrikaners wat tussen 1881-1883 in Humpata aangekom het; en die name van die “mak volk” wat saamgetrek het. Die lyse bevat die volle name van die persone, herkoms voor die Groot Trek, gemeente waarvan hy/sy lid was voor die Dorslandtrek, geboortedatum, sterftedatum, teruggetrek of nie en of hy/sy in Anglo aangekom het. Die werk lewer ʼn substansieële bydrae tot genealogiese navorsing want iets soortgelyks oor die Dorslandtrek bestaan nie en dit voldoen bo alle twyfel aan die eise van wetenskaplikheid. (Inligting deur Rentia Landman – NTvl) Vir meer volledige inligting: http://www.akademie.co.za/aktiwiteite/pryse/ Groete, Simon
Hallo Lyslede Drie gelukwensings vandag! Baie geluk aan Dennis Pretorius dat hy mense kon inspireer om die 1984 Kieserslys Transkripsie Projek te voltooi en baie geluk aan almal wat help tik het. Bonnie Sydow het met die idee gekom, maar ek is seker niemand het voorsien dat die sewe jaar sou duur nie. Dennis en die mense wat getik het, het baie deursettingsvermoë aan die dag gelê om dit te voltooi. Baie geluk aan Gerhard Geldenhuys wat die D. F. du Toit Malherbe prys vir genealogiese navorsing ontvang het vir die besondere rol wat sy genealogiese navorsing gespeel het op ’n medies-wetenskaplike gebied. Dit is ʼn erkenning van die regmatigheid van genealogiese navorsing. Baie geluk aan Nicol Stassen van Protea Boekhuis wat die erepenning gekry het vir sy boek Die Dorslandtrek 1874-1881 wat met sy naamlyste ʼn bydrae tot genealogiese navorsing lewer. Voorwaar ʼn mylpaal vir genealogie. Baie geluk op hierdie 1 April! Groete Elmien