Hierdie tweede gedeelte van my dankie-sê brief het vir lank in my ongestuurde pos bly lê. Die lewe gebeur met mens. Van 20 – 24 Maart het die BTKaners van die jare sestig in die suidelike Cederberge op die plaas Kunje reünie gehou. Op 17 April is Johan Winckler skielik oorlede; 24 dae later. Mense wat daardie tyd op Stellenbosch was, sal hom seker onthou. Dit is so onverwags dat mens heeltemal stomgeslaan is. Ek laat maar my herinneringe soos ek dit neergeskryf het. Ek het regtig begin dink oor en mymer oor die lang pad wat ek met genealogie geloop het en die wonderlike mense wat by tye saam met my daardie pad gestap het. Ek hoop regtig nie ek noem een en laat ʼn ander een uit nie. As dit gebeur is dit maar net soos wat mens se gedagtes die pad vat. Hier kom dit; die tweede deel van dankie en my mymeringe: Waar ek dankie sê vir almal wat my geluk gewens het, het ek begin om sekere mense te noem wat die reuse was op wie se skouers ek gestaan het Dalk moet ek by die heel begin begin. Ek het aanvanklik by die Kaapse Argiefbewaarplek om hulp aangeklop. Op daardie stadium is die NG Kerk boeke daar bewaar. Dit was maar moeilik. Mens moes self jou weg vind. Die personeel was darem altyd bereid om te help. Ek moes op die harde manier leer om die ou skrif te lees – daar was nie ʼn SAGenealogie of Buitenposten om te vra nie. Op een stadium het ek ʼn afskrif van my stamvader se skeepsoldyrekening saam met my geneem en Jaco van der Merwe het vir my verduidelik wat sommige van die kortpaaie wat op dokumente gebruik is, beteken. Een ding wat ek spesifiek onthou is “per stuk”. Dit was die opvarende se skuld aan die kompanjie, of ʼn hemp of ʼn kis waarvan die prys per stuk gegee is. Dan was daar ʼn meneer Minnie wat die ou skrif gelees het asof dit Times New Roman was. Jean Blanckenberg het my vreeslik aangemoedig. Op ʼn stadium het ek vir haar gesê ek is amper klaar – toe sê sy vir my ek sal nooit klaar wees nie! (Sy het iets geweet wat ek nie geweet het nie.) Daarna het die kerk die boeke weer teruggeneem na die NG Kerkgebou in Victoriastraat, Kaapstad. (Ek dink dit is die regte adres Google wys dit nie meer nie.) Die NG Kerk het besef dat té veel mense die boeke in die afgiefbewaarplek gebruik en dat die boeke verniel. In die kerkkantoor het ʼn persoon gewerk wat die hele dag óf koerant gelees het óf oor die telefoon gesels het. Mense met titels is wel gehelp, maar arme mense soos ek en André het verskriklik lank gewag vir alles wat ons bestel het. As mens gekla het, het jy nog langer gewag. Die kerk het altyd daarteen weerstand gebied om toegang aan die Latter Day Saints te verleen om sy registers af te neem. Gelukkig het die kerk hierdie weerstand oorkom. Die redes vir die ommeswaai was seker omdat die boeke verniel het en omdat hulle nie die regte personeel gehad het om die biblioteek self te bestuur nie. Dalk was die heel grootste rede om seker te maak dat ʼn afskrif êrens bewaar word. Voor familySearch was die boeke vir ewig verlore indien dit in ʼn brand geskadig sou word. Vir ʼn tydjie is die boeke in GISA bewaar, maar die toegang daartoe was beperk. Die mikrofilms waardeur ek en Alet en André geblaai het, was films wat deur die RGN afgeneem is. Mettertyd het die mikrofilmrolle van Salt Lake City begin aankom. Die tyd toe ek elke oggend ingery het Stellenbosch toe, het ek gesien hoe hulle (lede van die Mormoonse kerk) die kerkboeke afneem. Hulle het die boek opgestel deur dit halfpad oop te maak en op ʼn staander te sit. Dan het hulle professionele kameras loodreg met die bladsy se oriëntasie opgestel en die foto geneem. Dit was tegnologie waaroor min organisasies beskik het. Die kameras was seker die beste professionele kameras wat daar was. Daardie tyd was Isebelle Krauss die verteenwoordiger van die Mormoonse kerk in Afrika. Sy en Leon Endeman, die hoof van GISA, het ’n baie goeie verhouding gehad. Deur Isebelle se toedoen het die Suid-Afrikaanse rekords vir ’n tydjie voorrang geniet en baie dokumente van die kerk en argiefbewaarplekke is gedurende daardie tyd gefotograveer en op die internet geplaas. Na sy afgetree het, het die tempo ook afgeneem. Alles waarmee ek begin het was onnodig! Ek het in Kaapstad in die argiefbewaarplek ou reisbeskrywings aangevra en deurgegaan om te sien of daar Spiese in was. Indien ek iets gekry het, het ek afdrukke gemaak. Die gemeenteregisters en ringsafskrifte het ek in die argiefbewaarplek, die kerkkantoor en in GISA raadgepleeg. En die skeepsoldyrekening! Ek het Den Haag toe gegaan en die Nationaal Archief besoek. Met Meilink-Roelofsz se inventaris het ek darem die skeepsoldyboeke kon opspoor. Iets waaroor ek baie bly was, was dat ek Jan Blignont se skeepsoldyrekening vir Philip kon kry. [Ek wou nou net seker maak, maar kon dit nie met verskillende spelwyses op gehatNA kry nie. Dit is onder Bligmont, wat ’n transkripsiefout is, dit moet Blignont wees.] Hoe ek die papierkopie gekry het weet nugter. Ek het ook Georg Peter Kellerman van Disseldorp en Hendrick Biboǔ van de Caab opgespoor. Die reis Nederland toe was onnodig, want vandag kan ek al die dokumente kry sonder om van my sitplek op te staan. [Jan Blignont is ’n uitsondering wat die reël bewys! Of iets in dier voege.] Johannes Ulrich Spies se doop het ek nog nie gekry nie. Voor ek begin het met genealogie was daar sekere navorsers wat met kontakte in Duitsland stamvaders se doopinskrywings kon opspoor. Ek dink Johan Krige is een van hulle. Die kontak in Duitsland het egter aanbeweeg (ek ken nie daardie geskiedenis nie) en van toe af is dit baie moeilik. Ek het na hoeveel plekke in Duitsland geskryf en niks verder gekom nie. Ek het Salt Lake City toe gegaan in die hoop om Johannes Ulrich Spies se doop in die kerkregisters van Duitsland te kry. Na drie besoeke het ek dit nog nie reg gekry nie. Ek het egter baie, baie daar geleer; van die aardrykskundige woordeboeke oor Duitsland en Beiere tot die biografiese woordeboek van Van der Aa en Kohlheim en Kohlheim se boek oor Duitse vanne. Daar is filmrolle van boeke in hulle biblioteek wat mens net daar mag raadpleeg – dit word nie versprei nie. Dit, behalwe al die ander boeke in alle tale, sommige weggebêre in die “high density” gedeelte. Deur Isebelle se toedoen het ek ook vir Ugo Perego ontmoet (dit was so iets soos; ek kom met daardie tram en het ʼn groen rok aan) en op die manier het ek die voorreg gehad om die DNA laboratorium ( <https://en.wikipedia.org/wiki/Sorenson_Molecular_Genealogy_Foundation> Sorenson Molecular Genealogy Foundation) te besoek. Ugo het ook vir my afskrifte gegee van artikels wat hy geskryf het. Ongelukkig het die laboratorium hulle borgskap verloor toe die weldoener (James LeVoy Sorenson) in 2008 oorlede is. Ugo het ook vir my gesê hy kry meer van sy genealogiese inligting in Salt Lake City as in Italië. Natuurlik was daar baie Serendipity by al hierdie “onnodige goed”: soos die dinge wat mens by ʼn argiefbewaarplek leer wat mens nie noodwendig ooit neerskryf nie en natuurlik is daar al die dokumente van nog nie gefotografeer en op die internet is nie. Ander Serendipity is die boeke wat mens kan koop en die genealogiese tydskrifte wat ek in elke moontlike boekwinkel in Amerika uitgegrawe het. Meer persoonlike Serendipity is ʼn besoek aan Madurodam in Nederland; die wonderbaarlike Temple Square met die wonderlikste tuine en die asemberowende bloeisels in die lente in Salt Lake City. Daar is die Mormoonse Tabernakelkoor en die heerlike ligte etes in die Lion House Pantry (from the sublime …). En om bo-op die heuwel by die Capitol-gebou te sit en te kyk hoe vuurwerke geskiet word op die 4de Julie. Dit is eintlik net lekker om ʼn paar dae in Salt Lake City te wees. Volgende keer kry ek Johannes Ulrich Spies se doopinskrywing! Dan is daar die mense met wie ek saam gewerk het, toe ek op die bestuur was. Ek kon al Excel gebruik om lyste van mense te maak, maar toe Allie (Adelbert Semmelink) voorsitter van die Wes-Kaaptak van die GGSA was en ek tesourier, het hy van my verwag om meer met Excel te doen. Allie het ook in die aktekantoor begin met die “Cape Death Notice index” waar hy die meer onlangse sterfkennisgewings (die wat nog nie na die argiefbewaarplek gestuur is nie) geïndekseer het. [Begin hier http://www.e-family.co.za/cdni/cdni_index.htm en dit lei mens na http://www.e-family.co.za/cdni/cdni_search.htm] Dit is nou nie meer nodig om dit te doen nie, want FamilySearch het hierdie dokumente afgeneem, maar tot tyd en wyl FamilySearh geïndekseer is, is hierdie databasis nog belangrik. Mens kon die rekenaaruitdrukke in die aktekantoor raadpleeg en dan die boeke aanvra. Na Allie bedank het, was ek sekretaresse met Johann van Rensburg voorsitter. Johann het baie moeite gedoen. Een jaar het hy die Algemene jaarvergadering in die Kasteel in Kaapstad gereël. Op ʼn ander geleentheid het hy vir my gevra ek moet probeer om ʼn plek te kry wat weg van alles en almal is. Ek het toe die algemene jaarvergadering op Wiesenhof (ʼn plaas naby Stellenbosch) gereël. Op ʼn ander geleentheid het ek ʼn genealogie-naweek op Stilbaai georganiseer. Dit was baie lekker. Ons het lesings gedurende die dag afgewissel met besoeke aan die ou argeologiese oorblyfsels in Stilbaai en gekyk hoe die palings gevoer word. In die aand het ons saam vleis gebraai. Ockert Malan het daar die lesing gelewer waarin hy ʼn stelsel voorgestel het om hoe aan die familie vóór die persoon wat die stamvader is, genealogiese nommers te gee. Johan het die komitee baie goed bestuur – hy het altyd die sekretaresse en die tesourier voor ʼn vergadering besoek om seker te maak die notule is geskryf en die boeke is op datum. Daardie tyd het Saambou-Nasionaal baie hoë rente op spaarrekeninge gegee en ek het die ledegeld in ʼn rekening by hulle inbetaal. Toe die bank onder kuratorskap geplaas is, het ek darem maande van vrees en angs beleef. Gelukkig het die klein beleggers niks verloor nie (die aandeelhouers wel) en ons, die Wes-Kaaptak, het nogal ʼn stewige bankbalans gehad. Nadat ek bedank het, kon die tak van daardie geld ʼn projektor vir Power Point koop. (Dankie Saambou!) Daarna was Johann voorsitter en ek sekretaresse van “nasionaal” en ons het die aller wonderlikste algemene jaarvergaderings bygewoon. Noordwes onder Simon du Plooy en Elmarie Weyers het vir ons laat mampoer proe en op Bloemfontein was ons deur die toedoen van Johan Pottas by die Vroue Monument en op president Steyn se plaas Onze Rust en het die wonderlikste staaltjies oor pres. Steyn se lewe gehoor. Johann se ander bydrae was die neerskryf van grafskrifte. Hy het van die Pretoria? (Noord-Transvaal?) gekom, waar ek dink hy sy begrafplaasprojek begin het en na sy verskuiwing Suide toe het hy die Kaap ook aan die werk gekry. (Peter Holden was waarskynlik die eerste persoon wat daaraan aandag gegee het, maar ek het hom nooit geken nie en ken nie die geskiedenis nie). Marianne Meyer en daarna Fred Deas en Yvonne Robinson het by hom oorgeneem. Deesdae is Peter Moss die een wat die begrafplaasprojek dryf, maar Johan is nog betrokke. Ek het begin by die reuse op wie se skouers ek gestaan het, toe het ek afgewaal na reuse met wie ek saamgewerk het, dan kom daar nog die reuse van wie se werk ek gebruik maak. Ek dink dit is tyd dat daar ʼn gedenkboek van die GGSA uitgegee word, waarin die hele geskiedenis aangeteken word. Mense van wie se werk ek gebruik maak, maar saam met wie ek nooit direk in ʼn bestuursfunksie gewerk het nie is Hans Heese wat in Nederland afskrifte gemaak het van die Kaapse opgaafrolle en skrywer van Groep sonder Grense, Reg en Onreg en van Amsterdam tot Zeeland en wat ook die Slawesimposium op Stellenbosch op 1 Desember 2008 georganiseer het; André van Rensburg met sy stamouers; Isabel Groesbeek en haar genealogiese kursus; die mense wat koerantberigte van sterftes transkribeer soos Fanie Blignaut (Blikkies), Rita Quebbemann en Hester Marx; Richard Ball met sy deeglike navorsing oor verskeie families; Colin Pretorius met CD-Books-R-Us; Dennis Pretorius met sy olifant projek; Delia Robertson met die webwerf e-family, veral First Fifty Years; Mansel Upham met sy artikels oor vroue aan die Kaap; Corney Keller met sy transkripsies van Nederlandse dokumente. Ek het wel bygedra tot Tobie Swart se projek om persoonlike berigte op die internet te plaas. Ek het al die berigte wat in die Burger verskyn het aan hom gestuur. Dit het nogal toewyding gevra, want die berigte was aanlyn vir ʼn sekere tydperk en ek onthou hoe ek soms as ons vir die aan uit was, eers na Die Burger op die internet gesoek het, voor ek kon gaan slaap. Al die berigte is korrek geplaas, want ek het nie oorgeskryf nie, ek het “gespoeg en geplak”. As daar foute was, was die foute in die koerant. Ongelukkig het Die Burger eendag summier hierdie funksie afgeskakel en omdat ons is nie ingeteken op Die Burger is nie, moes ek ophou. Nou het ek heel waarskynlik die heel belangrikste persoon uitgelaat. (Ockert Malan en Stellenboschse kerkregisters en al die ander kompakskywe soos grafstene. Dan is daarook die Genealogiese vereninging se webwerf met die onderskeie projekte.) Ek was egter nie persoonlik by baie projekte betrokke nie, ek weet nie presies hoe dit aangepak en deurgevoer is nie. Dit is die wat ek sê die geskiedenis moet geboekstaaf word. Ek moet nou nog net vir Francois Greeff noem. Francois wou ook baie graag sy doktorsgraad in genealogie doen en het ʼn klompie mense oorreed om saam met hom te onderhandel. Op daardie stadium het ek reeds vir Matilda Burden gespreek, maar ek was bereid om my gewig ook by Francois in te gooi. Francois se aansoek om toelating is ongelukkig nie toegestaan nie. Die Universiteit van Stellenbosch het net vir my en Eleanor Damon toegelaat om in te skryf – ons was net-net betyds. Dit is wél moontlik om tans by die Universiteit van Potchefstroom in te skryf vir ʼn graad in geskiedenis en met kultuurkunde (genealogie) as hoofonderwerp. As iemand belangstel – daar ís geleentheid daarvoor. Ek het glad nie die reuse wat van vroeër dae genoem nie, daardie mense wat reeds diep spore getrap het voor ek met my navorsing begin het – beginnende by Christoffel Coetzee de Villiers en dan al die ander mense na wat boeke publiseer het, soos Jan Visagie se Voortrekker Stamouers en Ben Cilliers se Genealogieë van die Afrikaner Families in Natal. Ek het ook niks gesê van die mense wat besig is met nuwe projekte nie, soos Petro Coreejes-Brink wat die boeke wat in GISA was onder haar sorg geneem het en die mense wat die Suid-Afrikaanse Genealogië digitaliseer nie. Ek het ʼn lang en goeie pad en genealogie gestap en hopelik gaan die pad nog verder. Dankie vir almal wat soveel vir my beteken het. Groete Elmien Elmien Wood Bellville <mailto:woodem@mweb.co.za> woodem@mweb.co.za <http://www.avg.com/email-signature?utm_medium=email&utm_source=link&utm_campaign=sig-email&utm_content=emailclient> Virus-free. <http://www.avg.com/email-signature?utm_medium=email&utm_source=link&utm_campaign=sig-email&utm_content=emailclient> www.avg.com