Hier is ek nou om te antwoord op die e-posse van mense wat my geluk gewens het met my doktorsgraad. In die eerste plek wil ek die mense bedank sonder wie ek dit nie sou kon regkry nie. My vriend André Kellerman het altyd gesê mens staan op die skouers van reuse. En ek het werklik op die skouers van reuse gestaan. In die eerste plek is ek dank verskuldig aan my studieleiers Matilda Burden en Hans Heese. Daar is niemand wat beter kan leiding gee op die gebied van kultuurkunde en genealogie respektiewelik as hulle nie. As hulle ʼn verandering voorgestel het, het ek dit nooit in twyfel getrek nie. Ek het altyd gedink ek sou ʼn maklike student wees, maar my gewoonte om eers gou weer seker te maak alle punte en kommas is ingesit sou my self desperaat gemaak het, maar hulle het dit maar aanvaar. Dan is daar is al die ander mense by wie ek deur die jare iets verskillend opgetel het – elkeen na sy aard. Ek wil nie ʼn verskriklike lang lys maak van mense by wie ek geleer het nie, ek leer nog elke dag, maar dit is baie moeilik om nie iemand te vergeet nie, maar ook om nie te veel besonderhede te gee nie. Ek probeer: Toe ek begin het om na GISA toe te gaan het ek Alet Swanepoel en André Kellerman daar aangetref. Alet was vantevore ʼn verpleegster wat baie opgang in haar werk gemaak het en sy was verskriklik goed met administrasie en die skep van orde. Voordat sy begin navorsing doen het, het sy eers Daniël Jacobs se kursus geloop. (Ék het sommer in die diep kant in gespring!) Alet het onselfsugtig bygedra tot my Spies-genealogie. Soos wat sy na Swanepoels en Groenewalds en Combrin(c)ks gesoek het, het sy vir my die Spiese gegee waarop sy afgekom het. Ek het “dieselfde” gedoen. Nou, gaan kyk maar na die aantal mense wat Alet ondersoek het en vergelyk dit met die van Spies. (Mens kan begin om die vanne op die kieserslys te tel!) Vir elke honderd Spiese wat sy vir my gegee het, het ek seker vir haar een van haar mense gegee – en sy het nooit eers gekla nie. Daarby het sy ook hoeveel keer vir my gesê: “Elmien, skryf die verwysing neer.” Boonop het sy ʼn lys gemaak van die nommers van gemeenteboeke en ringsafskrifte en die ooreenkomstige nommer van die mikrofilm bygesit. Haar lys was beskikbaar vir ander navorsers. Sy het ook al haar data op die rekenaarprogram van die Port Elizabeth Genealogiese Navorsingsgroep van prof Gideon de Kock ingesleutel. Haar bydrae was enorm, maar sy het altyd gesê sy stel nie belang in die ander deel van genealogie nie, dit is die storie – die deel waaroor my proefskrif gaan. Alet se publikasie van die Combrin(c)k-familie is ʼn stuk werk wat wys hoe ʼn stamboom gedoen behoort te word. André weer was ʼn sosioloog en ‘filosoof’ en sy belangstelling in sy en sy vrou se familie het ook ʼn bietjie meer gegaan oor waarom mense op ʼn sekere manier optree. Daar was lewenswaarhede wat vir hom belangrik was. Een was die konsep van “op die skouers van reuse” wat ek hierbo genoem het en ʼn ander een “die waarheid moet uitkom”. Ekself het nogal baie keer iets op ʼn toevallige manier teëgekom en hou baie van die konsep van “Serendipity” – die twee prinse gaan soek na iets wat hulle nooit kry nie, maar in die proses kry hulle baie ander goed. André het my toe die prinses van Serendipity genoem! Dit was André wat my voorgestel het as lid van GenForum – die voorloper van SAGenealogie en Buitenposten. Nou loop ek gevaar om presies te doen wat ek nie wil doen nie en dit is om iemand per ongeluk uit te laat. Van die reuse van die poslyste gaan ek dus maar net Johan Erasmus noem – hy het die poslys GenForum begin. (Ons is ook baie dank verskuldig aan Dennis Pretorius en Delia Robertson en hulle spanlede – dit is ʼn geskiedenis vir ʼn ander dag). Nou is ek besig om ʼn lys te maak van reuse in plaas daarvan om die reuse te noem by wie ek persoonlik geleer het. Ek móét net nog vir Philip Blignault noem. Aan die heel begin het hy my gehelp met rekenaar probleme (mense het al genoem van die program wat hy vir Alet geskryf het om haar data oor te skakel sodat dit gedruk kon word). Hy het ook vir Malcolm ʼn tafelrekenaar opgebou. Ek wonder wat van sy Blignautnavorsing geword het. Een probleem wat hy nooit kon oplos nie was waar om Chris Blignault en “O die donkie” in te pas. Dit sy wonderlik wees as André en Philip se navorsing op een of ander manier gepubliseer kon word. Daniel Jacobs het natuurlik die ding begin. Ek het toe nooit sy kursus bygewoon nie, maar dit tweedehands van Alet geleer. Tobi Swart weer het die dokumente wat in Pretoria se argiefbewaarplek is aan my bekend gestel en ook waar en hoe om dit aan te vra. Toe ek eens op ʼn tyd kleitrap met argiewe, argiefbewaarplekke, argiefgroepe, katalogusse en inventarisse was Tobi daar om dit goed uiteen te sit. Ek dink ons moet weer begin om vir hom vrae te vra. Tobi was ook so vriendelik om die boodskap oor my doktorsgraad op die poslys te sit. Hy wou dit doen, ek sou nooit so iets vra nie! Hy het gevra waaroor die proefskrif gegaan het en ek moes hard dink hoe ek dit kan verduidelik, want ek het die proefskrif nog nie op die internet gesien nie. Toe val dit my by dat die inligting op die program van die gradeplegtigheid wel op die internet is. Ek het vir hom die skakel gestuur en gedink hy sal net die skakel aanstuur en toe gee hy die hele opsomming vir die lyslede. Ek waardeer dit verskriklik baie, dankie Tobi. Ek het hierbo maar net ʼn paar van die baie reuse genoem wat ek op my pad met genealogie raakgeloop het. Dit beteken nie dat ek nie dink ek my doktorsgraad verdien nie! Dit sal almal kan sê wat al doktorsgrade voltooi het. Dit is verskriklik baie werk. Baie keer het ek die uil op die dak vroegoggend hoor roep en dan die klein voëltjies as die son begin opkom. Daar was baie onvoorsiene probleme. Op ʼn stadium het ek vir Malcolm gesê ek haat Theal. Hy het so baie gepubliseer. Ek weet dat ek my verwysings deeglik doen, maar dan kan ek my eie verwysing nie weer kry nie, net omdat elke boek van hom herdrukke gehad het en Theal (1910) kan baie dinge beteken. Dit is alles dinge wat eskaleer as die dokument lank word. In ʼn artikel verwys mens dalk na een boek van Theal en Theal (1910) beteken net een ding. Met ʼn proefskrif is dit heeltemal anders. Mens verwys na ʼn paar boeke van Theal en Theal (1910) kan baie dinge beteken. Ek het toe maar ʼn metode uitgedink waarop elke boek van Theal uniek geïdentifiseer kan word. (Dr JA Heese het iets soortgelyks gedoen in Slagtersnek en sy mense.) Dit is sulke probleme wat ek moes oorkom. Ek het ook aan myself die uitdaging gestel om aan elke persoon na wie ek verwys ʼn genealogiese nommer te gee. Ek weet die nommer verander met elke nuwe aanvulling en verbetering van ʼn geslagsregister, maar ʼn verouderde genealogiese nommer maak dit darem makliker om die regte een ʼn volgende keer te kry. Word vervolg (vir diegene wat nou nog lus is om verder te lees!) Groete Elmien Elmien Wood Bellville <mailto:woodem@mweb.co.za> woodem@mweb.co.za